blouwillem.co.za
Stories en gebeure.....                                           

Nog stories en gebeure...


Enigiets op hierdie aarde vir bietjie stilte.....

Ek sien Japan is amptelik die raserigste land ter wêreld.

Dié inligting, wat seker ’n verleentheid moet wees vir dié land se regering, is bekend gemaak deur die 79-jarige Yoshiko Sano, stigterslid van Japan se Association of Noise Pollution Victims. Hy beywer hom so in sy laat jare vir ’n oomblik van stilte in ’n land waar vier uit tien mense aan stres en gehoorprobleme ly.

Sy vereniging wil ontslae raak van die onmenslik baie luidsprekers wat die bevolking dag en nag met allerlei nodige en onnodige aankondigings bombardeer. Of ’n trein nie klaar genoeg lawaai maak nie, moet jy oorverdowend aanhoor: “Die trein kom, die trein kom!” In parke word voëlgeluide oor luidsprekers uitgesaai omdat daar nie meer voëls is nie. Dié het gevlug vir die luidsprekers. Die grootste ironie: In stedelike Boeddhiste-tempels word die deugde van stilte oor groot luidsprekers uitgesaai!

Net daar het ek en Oom Johnny, wat nes ek lief is vir ’n middagslapie en sulke rustige aktiwiteite, besluit om in ons land, waar geraaswetgewing nog nie eintlik lawaai maak nie, voor volgende jaar se verkiesing die VBBV-veldtog te begin. VBBV is natuurlik die Verban Blaarblasers Vereniging.

As daar nou ’n ding is waaraan ons ’n ewige hekel het, is dit dié goed wat lyk soos bazookas waarmee ons land se tuiningenieurs deesdae op sypaadjies rondpatrolleer. In die verlede was ’n besem en ’n hark goed genoeg, maar nee, nou moet dit ’n BB wees.

Die tuiningenieur loop dan enige tyd van 07:00 soggens af en blaas bondels blare teen klankgrens-desibels van een kant van die straat na die ander. “Om te wat?” soos die ou tannie die dokter gevra het toe sy die eerste keer by hom kom en hy sê sy moet haar klere uittrek.

Nee, daai blare word nie opgetel nie, maar net straataf (gewoonlik tot by die naaste buurman) geblaas, terwyl dit klink of ’n Harley-Davidson deur ’n swerm hadidas jaag. Daarom beplan ons om wetgewing deurgevoer te kry wat huiseienaars wat nader as 500 m van hul naaste bure af bly se BB’s te konfiskeer, alle BB-eienaars te verplig om soos met vuurwapens aansoek te doen om lisensies en laastens om vervaardigers van BB’s te dwing om silencers op die goed aan te bring. Enigiemand wat by die VBBV wil aansluit, kan ons bel. Ons hoop ons sal julle kan hoor.

Ja, salige stilte is waarna ons hunker. Toe Ousus so 10 of 11 was, stop ons eenkeer skemeraand by die Bergkwaggapark naby Cradock. Die ontvangskantoor is toe, daar’s nie ’n siel in sig nie en voor ons lê net die uitgestrektheid en spesiale stilte van ’n sononder in die Karoo. Terwyl ek die oomblik so staan en indrink voordat ek gaan sleutels soek, kom staan Ousus neffens my, draai haar koppie so skeef, oënskynlik om beter te kan hoor, en vra toe: “Pappa, wat is so stil hier?” En ek dink, my ou dogtertjie, jy sal eendag verstaan. “Sjuut,