blouwillem.co.za
Stories en gebeure.....                                           

Willem Theron 

Willem is 'n voorheen bevoordeelde, tans geseënde middeljarige wat omtrent ooral in die land gebly het omdat sy pa 'n polisieman was. Alles beleef het omdat hy getroud is, drie kinders en nege honde grootgemaak het, 'n gebuigde sleepwa besit en 'n huisverband het wat jaarliks groter word. Hy was al assistentstoker op 'n trein, spioen, skakelbeampte en bemarker.

Verder het hy al langs ’n president gestaan en water afslaan. Hy was alleen by Madiba net voordat hy sy vrylatingnuus gekry het. Hy smokkel met die waarheid. Hy woon al 29 jaar in dieselfde huis. Hy is elke Maandag in jou huis.

Hy is Blouwillem van Blouwillemaandag.

Willem Theron (55), Blouwillem vir sy vriende en lesers, het 34 jaar gelede dié naam gekry. 

“Ons koshuisrugbyspan het destyds in blou truie gespeel. Ons het net toe begin om onder spreiligte te speel en die ouens sê toe ons moet oorslaan na wit truie want dan kan die mense ons beter sien. “Toe sê ek maar dan moet ons in blou bly speel want as ons beter gesien kan word, gaan die ander span ons beter tackle. “Ná weke se debat is daar een oggend om halftwee gestem. Ons het met ses stemme verloor. Toe sê een van die ouens vir my: van nou af is jy Blouwillem, en van daai volgende oggend af was dit my naam. “Dit het dus niks met Bulle of movies te make nie.”

Blouwillem is nie skaam oor sy eie grootste sportprestasie nie: hy het naamlik uit die Curriebeker gedrink elke keer nog dat die Vrystaat die beker gewen het – en ons praat van in die kleedkamer tussen die sweet en trane. “Ná die roemryke ’76 het ek Gerrie Sonnekus op my skouers gedra tot in die kleedkamer en my sluk uit die beker gekry. In 2005 het Jannie du Plessis ’n oom uit die pad geskouer en ek’s in vir my sluk. 
“Laas jaar toe hulle gelykop met die Blou Bulle gespeel het, het ek so sleg gevoel daaroor dat ek net ’n klein slukkie gevat het. Helgaard (Muller) het gesê dis die slegste wat hy nog gevoel het, toe sê ek vir hom nee man, jy’t seker slegter gevoel in 1997 toe jou forward pass ons die wedstryd gekos het.” Hy is lief vir rugby. En sy bloed is oranje. Vrystaat-Cheetah-oranje. Onverdund.

Blouwillem het baie jare terug aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer. In stedelike terrorisme. En toe gaan werk hy by die destydse Nasionale Intelligensie (NI) “nog voordat intelligensie ’n keuringsvereiste was”. Ja, Blouwillem was ’n “spook”. Maar hy was nooit WVK-materiaal nie, sê hy. “Die enigste spioenasie wat ek ooit gedoen het, was om destyds op Noord-Transvaal se skrummasjien te sit en dan vir die Cheetahs hul planne deur te bel nog voordat die Cheetahs bestaan het.” Dit was alles taamlik lank terug, “toe Polokwane nog Pietersburg was en PMS ’n Krygkor-filiaal”. Hy kan darem nog onthou. Hy het gelukkig nog “net Heimer, nog nie die Alz nie”. Hy skryf nie oor sy spook-dae nie en wil ook nie regtig te lank daaroor praat nie. Maar een van sy “greatste oomblikke” was toe hy alleen met die destydse prisonier Nelson Mandela in ’n “klein kamertjie” gewag het dat pres. F.W. de Klerk vir Mandela inroep om hom te sê oor sy vrylatingsplanne. “Terwyl ons daar gewag het, het Madiba mý uitgevra oor my kinders. Ek het gevra wat hy gaan doen ná sy vrylating. Hy het gesê hy wil teruggaan na sy geboortedorp. Madiba het ’n ongelooflike indruk op my gemaak.”

Voordat hy ’n spook geword het, het hy sy diensplig in die polisie gedoen. Hy was lank die destydse oudstaatspresident C.R. Swart (beter bekend as Oom Blackie) en sy vrou, Nellie, se “lyfkneg”. “Ek moes goed vir hulle doen om die lewe vir hulle maklik te maak daar op De Aap, hul plaas naby Brandfort. Soos om tant Nellie na haar hare-afsprake te ry. Hulle was dierbare plaasmense, soos ’n ouma en oupa.“ Die tannie het vir my soms ’n stuk skaapblad in koerantpapier toegedraai en melk in ’n ou gemmerbierbottel met ’n kurk op gegee net om seker te maak ek eet darem goed. “Oom Blackie het vir my elke week ’n brief geskryf terwyl ek in die ou Rhodesië grensdiens gedoen het. Hy’t my veral op hoogte van die rugby gehou. Ek het nog die brief waarin hy vertel het van die vrou wat daar na hulle dorp verban is en nou dinge moeilik maak. “Hy het nog in ’n glipsie na haar verwys as Nellie Mandela, pleks van Winnie.”

Dit was ’n ander oudstaatspresident, mnr. Jim Fouché, wat hom genooi het om saam te gaan water afslaan terwyl hulle op Jammerfonteinstasie gewag het op ’n perd wat per trein moes aankom. “Toe dag ek hier’s my kans om saam met ’n president te fluit. En daar staan ons twee toe teen ’n ou treintrok en fluit.”

Hoe onmoontlik en onwaarskynlik dit ook al mag klink vir lesers van Blouwillemaandag, het Blouwillem ook in sy lewe mnr. Pik Botha, veteraan-oudminister van buitelandse sake, opgepas. “Hy is ’n interessante ou. Hy weet meer van bome en potjiekos as enigiemand wat ek ken. Ek was op baie plekke saam met hom, by Kurt Waldheim in die VVO-gebou, in Jimmy Carter (oudpresident van die VSA) se woonstel en in die Withuis.” 

Woordspeling is Blouwillem se kos. “Ek is nie ’n nar nie,” sê hy. “Ek sien net snaakse goed raak.” “Fanus (Rautenbach) is my hero. Fanus was die groot held in my grootwordhuis. My pa was ’n polisieman, hy was destyds by Sharpeville. Dan het ek en my ma na Fanus geluister en beter gevoel oor my pa.”

Ook ware stories is vir hom lekker – “hoewel ek soms met die waar smokkel”. Sy ander rolmodel was Johan van Wyk, ’n joernalis wat jare lank elke dag die humorrubriek Stop van myne in Beeld se susterkoerant Volksblad geskryf het. Blouwillem is nou al ses jaar in diens van sy alma mater en bemark die oudstudentefonds. Hy skakel dus baie en oral met oudstudente. “Ek is ’n goeie spons vir stories. Ek het afsprake met baie mense en hoor oral stories.” 

Ja, daar is ’n gunsteling-storie.

“Die een van die oom wat tydens die Depressie ’n vrag wol dorp toe ry vir die agent. Twee weke later ry hy weer dorp toe om die tjek te kom haal. Die agent sê die mark het in duie gestort, hy kon niks vir die wol kry nie. Dis so erg die oom skuld hóm eintlik 1 pond en 4 sjielings. Die oom sê hy het nie geld nie en vra ’n slagskaap. Die oom se hy’t niks meer om te slag nie en die agent sê toe die oom kan maar vier hoendertjies bring. Later is die oom terug met ’n fuik met agt hoenders in. Die agent sê nee oom, vier is genoeg. Die oom sê vir hom maar ek het vir jou nog ’n vrag wol hier.”

Patos, sê Blouwillem. Die patos-lag is ’n spesiale soort lag. Soos die ou tannie wat dood is en haar seun is ook daar terwyl daar begrafnistee gedrink word. Die seun staan en kyk vir ’n ou lelike vertoonkas vol ou goed in die huis en iemand hoor hom sê: “Ag ma, wat moet ek met ma se waardevolle k** doen?”

Nou die dag het sy eie ma 90 geword en eiehandig tien heerlike skilferkorsmelkterte gebak vir die partytjie. Blouwillem sê hy moes ’n speechie maak en sê toe onder meer dit is darem jammer dat sy nie daar sal wees om melktert op haar begrafnistee te bak nie.

Hy het al kleintyd toe hy hoofseun van Hoërskool Wonderboom in Pretoria was, snaakse goed raakgesien. Hy is baie opgewonde en trots op sy eerste boek, ’n samestelling van sy rubrieke in Beeld, Volksblad en Die Burger. Sy gunsteling-storie in die boek is van die ou wat volspoed agteruit oor sy Ventertjie gery het. 

“Ek kan ’n novelle oor sleepwaentjies skryf,” sê hy. “Jy kan nie humor net vir jouself hou nie, dan is dit waardeloos, soos suurstof wat nie gebruik word nie. Ek gebruik humor waar ek dit hoor of kry en voel nie skuldig daaroor as ek woorde in oom Johnny se mond lê wat ek êrens op ’n SMS gekry het nie.” (Oom Johnny, Dik Daan, Groot Paul en neef Bartel is welbekend by lesers van die rubriek. Hulle bestaan regtig en is Blouwillem se rêrige pêlle.)

“Ek kry soms goed per SMS terug wat ek self geskryf het. Een dag het ek nog woorde vir eNaTIS uitgedink – eish, nothing available today, I’m sorry – en die volgende dag toe kom dit per fun-SMS na my toe terug.

“ ’n Ander ding wat ek uitgedink het wat nou famous is, is toe daar op ’n vergadering vir my gevra is wat ek dink van die rugby in ’n tyd toe die Vrystaat baie swaar gekry het. Toe sê ek ek voel oor Vrystaat soos ’n ou wat ’n broer in die tronk het, ek’s nog lief vir hom maar ek praat nie so baie oor hom nie. “Toe bel Dik Daan vir Leon Schuster en Leon gebruik dit en kort daarna weet niemand meer waar dit vandaan kom nie. “Geen stukkie humor behoort aan een ou nie. Humor is soos die see, dit behoort aan niemand nie. As jy dit nie deel en versprei nie, gaan dit dood en niemand lag daarvoor nie. “Wat is die fun om alleen te lag?”

Blouwillemaandag: 

Hy is destyds gevra om dié humoristiese rubriek oor die week se nuus te skryf nadat hy tydelik “ge-locum” het vir sy vriend Tom Ferreira se rubriek Dwarslat en toe baie komplimente vir Dwarslat ge-in het. Sy vrou, Karien, is sy klankbord. “Sy hou my in toom. Sy sal sê: ‘Dis ’n gesinskoerant. Dit word gebruik as begripstoetse op skool’, as sy dink ek raak onder die belt.”

Hy sien die ligte kant raak, want hy glo mense sien te maklik die donker kant.

“Ek sien dinge so positief soos Dik Daan. Hulle stamp sy Toyota van agter af, toe sê hy: ‘Moenie worry nie, ek wou nog altyd ’n Uno gehad het.’ Ek kry ook die kans om so ’n bietjie te spot met die ‘piepols’, só kry ek ’n woordjie in waar mense magteloos voel. Ek doen dit nie lelik nie, maar ek hou daarvan om soms ’n stekie in te kry.”

Blouwillem sê hy is te lief vir die son en die diere om ooit uit Suid-Afrika pad te gee. “Ek sal maar met die spies in die rug lewe, hulle moet hom net afsaag en dan sal ek op my maag lê. 
“Ek sien die ouens in ryk lande in Europa. Jy kan ’n week daar rondstap en jy sal niemand sien wat lag nie. Hulle lyk gatvol en lag nie en hulle het alles. “Ons ouens sal agter op ’n bakkie sit en verkluim en as jy jou hand oplig om te groet, is dit net sulke breë glimlagte.”

Dis nie altyd maklik om humoristies te skryf as dinge vir jou donker lyk nie, sê Blouwillem. 
Hy het op ’n keer langs een van sy twee dogters se bed in die waakeenheid van ’n hospitaal gesit en met langhand ’n humorrubriek geskryf. Hy het ook al ernstige rubrieke geskryf, “soos toe Hansie (Cronjé) dood is en toe my vriend Jerry Brynard by die Augrabies-waterval afgeval het op soek na sy selfoon”. Hy beskryf homself as ’n mengsel tussen ’n kuiergat en ’n op-sy-eie-mens. “Ek was ’n enigste kind. Ek hou daarvan om te lê en lees en het soms stilte nodig.”

Die beste boek wat hy ooit gelees het en wat nou nog op sy bedkassie lê, is Bill Bryson se A short history of nearly everything. “Dit plaas in perspektief hoe ’n stoffie ons is in die groter prentjie van die heelal of heelalle. Watter groot voorreg dit is dat ons oorleef. En ons is soms so ondankbaar daaroor. Ons dink die heelal draai om die mens. 

“Ek het maar swak gedoen in skeinat op skool. Van matriek kan ek net onthou dat H2O water is en C2O koue water en al wat ek van varsity kan onthou, is hoe om ’n bierbottel met my tande oop te maak en nou skroef die goed af so dit beteken ek het niks op universiteit geleer nie.”

Blouwillem sit ontspanne agteroor. "Ek het 'n paar plekke gesien, 'n paar dinge gedoen. "En die bevredigendste daarvan was om kinders groot te maak en elke week se Blouwillemaandag..."